Thursday, June 4, 2015

Diversiteit - Suid Afrika se Grootste Bate - Word hierdie bate net soos die res geplunder




Diversiteit - Suid Afrika se Grootste Bate


Word hierdie bate net soos die res geplunder


                                                                                                Stes de Necker


Suid Afrika bly nog steeds die land met die rykste en grootste diversiteit ter wêreld.

Op bykans alle terreine, plante, diere, voëls, mense, tale, klimaat, grondstowwe, noem dit op en jy sal die wydste verskeidenheid hiervan gekonsentreerd in Suid-Afrika vind.

Indien ons na Suidelike Afrika kyk, wat die gebiede Namibië, Lesotho, Swaziland en Botswana insluit, dan bestaan daar nie nog 'n land ter wêreld waar jy binne n gebied van nagenoeg 2.5 milj. Km.2, 18500 verskillende plantspesies, 750 skoenlappersoorte, 336 soogdiersoorte, 800 verskillende voëlsoorte, meer as 60 mineraalsoorte kan vind nie.

Volgens die indeling van die wêreld se ses belangrikste planteryke, is Suid-Afrika se fynbosstreek, 'n gebied wat strek van Olifantsrivier 250 km. Noordwes van Kaapstad, tot by Port Elizabeth aan die ooskus, die kleinste van hierdie ses streke. Hoewel die kleinste beskik hierdie streek oor 8500 verskillende plantsoorte waarvan 73% nêrens elders ter wêreld natuurlik aangetref kan word nie. Tafelberg alleen het/besit meer plantsoorte as wat in die hele Brittanje aangetref word. In vergelyking met Suid-Afrika se 750 skoenlappersoorte word daar slegs 75 soorte in totaal in Engeland aangetref terwyl. In vergeleke met die totaal van 125 verskeie soorte landdiere wat in Wes-Europa aangetref word, beskik Suid-Afrika oor nie minder as 240 verskeie soorte landdiere. Nie minder as 29 verskillende boksoorte word in Suid-Afrika aangetref. 

Voeg hierby nog 11 verskillende inheemse volkere, 3 milj. Hektaar natuurreservate en 'n kuslyn waar daar alreeds 65 soorte van alle tandwalvisse en dolfyne wêreldwyd opgemerk is, dan dit te verstane hoekom talle buitelandse besoekers al die mening uitgespreek het dat Suid-Afrika oor die potensiaal beskik om 'n ekonomiese wonderwerk tot stand te bring.

Hoekom sien buitelanders hierdie potensiaal raak terwyl die Suid-Afrikaanse regering nog daagliks daaroor struikel. Is dit omdat die huidige regering hulle nog steeds in die drukgang van vooroordeel bevind, of kan hulle bloot nie daarin slaag om van hulle oogklappe ontslae te raak nie.

Wat goud en diamante betref, lewer Suid-Afrika tans 80% van die wêreld se goudproduksie en die grootste gedeelte van die wêreld se diamante. Meer as 60 minerale word in Suid-Afrika ontgin, terwyl ons oor 90% van die wêreld se vanadium, 89% van die platinummetaal groep, 84% van die chroomerts, 93% van die mangaan en 64% van die goudreserwes beskik. Steenkool voorsien in 80% van die land se energiebehoefte terwyl groot vordering reeds gemaak is op die terrein van addisionele kernkrag en windkrag. Sasol voorsien reeds meer as 30% in die land se vloeibare petroleum behoeftes, terwyl die landbousektor nog steeds daarin kon slaag om nagenoeg 40 milj. Mense daagliks kos te gee.

In my vorige artikel “Cry the beloved Country – Continue Crying” het ek geskryf oor Suid Afrika se politieke selfsug. Wat die ANC-regering (met sy jeug- en ander ligas ingesluit) nog nie kan verstaan nie, is dat Suid-Afrika se rykdomme nie net aan die huidige geslag ANC-lede kan behoort nie. 'n Mens wonder wie die ANC-jeugliga dink gaan die minerale en nasionale rykdomme van hierdie land besit indien nasionalisering wel 'n werklikheid word. Die ANC elite? Een of ander Staats orgaan? Een of ander swart bemagtiging maatskappy? Indien die swart bemagtiging maatskappy Mvelaphanda van Tokyo Sexwale enigsins 'n voorbeeld is van die redistribusie van Suid-Afrika se minerale rykdom, sal nasionalisering sekerlik die finale doodsteek van Suid-Afrika se ekonomie beteken.
      
Wat het van die regering se edele uitspraak geword dat Suid-Afrika behoort aan almal wat daarin woon en leef. Of het “almal” moontlik 'n nuwe betekenis gekry en verwys dit deesdae slegs na “almal in die ANC”? Wat behoort dan aan die 34% kiesers wat nie vir die ANC gestem het nie. Mag hulle nie ook deel in hierdie “kommunale” rykdom nie?

In my vorige artikel “Cry the Beloved Country – Continue Crying” het ek gesê: Vergete is die edele ideale van opheffing van die minder bevoorregtes, gelyke geleenthede vir almal, vryheid van beroep en vryheid van assosiasie. In die plek daarvan heers daar vandag 'n kultuur van “Word so gou moontlik, so ryk moontlik”. Daarbenewens is hierdie kultuur van selfverryking slegs tot die beskikking van 'n paar bevoorregte lojaliste in die ANC. Verskil van hierdie groep en hierdie reg tot selfverryking word jou baie vinnig ontneem. Dit is 'n Kultuur wat 'n verskeidenheid euwels omarm, die meeste waarvan gemik is op die erodering van ons grondwetlike demokrasie en die instandhouding van die gewetenlose en onbevoegde politici in hulle gefortifiseerde paleise, uitgepaneelde kantore en luukse limousines.

Die veelkleurige reënboog van Emeritus Biskop Desmond Tutu is vinnig besig om vervang te word met die lugspieëlings van 'n verskroeide en geplunderde woestyn landskap.

Geforseerde integrasie is besig om ons unieke verskydenheid kultuur-identiteite te verwoes.

Onoordeelkundige toekenning van eksplorasie en myn konsessies is besig om ons natuurerfenis te verwoes.

Korrupsie en misdaad is besig om hierdie land se potensiaal as n toerisme mekka te verwoes.

Persoonlike gewin en verknogtheid aan ekonomiese- en politieke mag, is besig om Suid Afrika se ekonomiese potensiaal en politieke bestendigheid te verwoes.

Korrupsie en bedrog op alle vlakke van ons samelewing, is besig om Suid Afrika se integriteit en geloofwaardigheid as internasionale handelsvennoot te verwoes.

Die onoordeelkundige toekenning van sosiale toelaes en skenkings om politieke stemme te werf, is besig om ons mense se werks-etiek en produktiwiteit te verwoes.

Suid Afrika is die mees moderne ekonomie op die Afrika vasteland, en het homself reeds gevestig as die toegang tot die res van Afrika vir beleggers wat in Afrika wil belê.


Indien Suid-Afrika hierdie posisie wil behou, sal die Suid-Afrikaanse regering baie vinnig hulle beleid ten opsigte van nasionalisering en ekonomiese ontwikkeling duidelik moet uitspel om te verhoed dat hierdie land nie ook soos Zimbabwe, Mianmar, Kenia en nog vele ander, deel word van die “mislukte ekonomieë” van die huidige wêreldorde. 


Wyle Dr. Anton Rupert het by geleentheid die volgende beginsels vir interpreneurskap benadruk naamlik:
  • Dat hy wat alles wil behou, alles sal verloor.
  • Dat jy nie met armlastiges handel kan dryf nie.
  • Dat jy nie goedgesindheid kweek of welvaart skep deur 'n beleid van weggee nie.
  • Dat welvaart aansteeklik is. As sukses gedeel word, lei dit tot groter sukses.
  • Dat jy jouself altyd in die ander persoon de skoene moet plaas; ook sy standpunt in ag moet neem.
  • Dat jy vertroue net kan wen as jy vertroue toon. Om te vertrou is wel 'n risiko, maar om ander te wantrou, is selfs 'n groter risiko.

Die oorgrote meerderheid inwoners van hierdie land moet nog leer dat politieke voortbestaan en ekonomiese welvaart nie geskep kan word deur op die reserwes van die verlede te teer nie. Dit moet met nuwe innoverende denke, gesonde ekonomiese beginsels, harde werk en persoonlike verdienste verwerf word. Dit kan nie net “demand” word nie.

Grodwetlike beginsel XI bepaal dat:

"The diversity of language and culture shall be acknowledged and protected, and conditions for their promotion shall be encouraged."

Tot watter mate gee die huidige Regering nog uitvoering aan hierdie beginsel?

Sedert 1994 was daar nog nooit n tyd soos nou, dat alle Suid Afrikaners behoort te verenig rondom hulle diversiteit nie!







No comments:

Post a Comment